
Mnr. Gerhard Claassen
Hoof
BOODSKAP VANUIT DIE HOOF SE KANTOOR
​
Soos u weet, tree ek die einde van September af na 41 jaar en 9 maande in die onderwys, waarvan 36 jaar en 9 maande by Laerskool Voortrekker Eeufees was. Vir die laaste 10 jaar het ek gedien as skoolhoof.
Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om ons ouers hartlik te bedank vir die vertroue wat u oor die jare in my gestel het om die skoolhoof van Laerskool Voortrekker Eeufees te wees. Dit was voorwaar ‘n groot voorreg.
As jong onderwyser het ek die beroep betree met die droom om leerders te bemagtig en te inspireer om die beste weergawe van hulleself te wees en ’n blink toekoms tegemoet te gaan. Min het ek besef dat hulle ook ’n groot rol sou speel in my persoonlike ontwikkeling deurdat hulle my perspektief op die lewe sou verruim en menige van my sienings sou verander. Ek het hulle nie net probeer slyp nie; hulle het my ook gevorm in die mens wat ek vandag is. Hiervoor is ek die leerders oor die jare, ewig dankbaar.
Dit was ’n besonderse voorreg om met soveel leerders te werk, en ek beskou myself as uitermate geseënd dat ek hierdie roeping kon uitleef. My kontak met ouers was positief, en ek kon altyd op u staatmaak om in te spring en te help waar dit nodig was. U kind is immers beide van ons se grootste verantwoordelikheid, en hulle toekoms word in ’n groot mate bepaal deur die samewerking tussen die ouerhuis en die skool.
Verandering is die enigste konstante in die lewe, en oor die jare het ek baie veranderinge in die onderwys en by ons skool beleef. Dit is nooit maklik nie en gaan dikwels met spanning en weerstand gepaard, maar u ondersteuning het dit vir my en die personeel soveel makliker gemaak. Dankie daarvoor.
Ek is ook dank verskuldig aan die verskeie Beheerliggame en bestuurspanne wat my oor die jare bygestaan het. Hulle betrokkenheid is altyd gekenmerk deur positiewe bydraes en ’n gedeelde visie, nl. wat die beste vir die leerders van die skool is, eerder as persoonlike belang en verryking. Ek is diep dankbaar vir die merkwaardige, visionêre spanne saam met wie ek die voorreg gehad het om te werk.
Aan elke liewe ouer van Laerskool Voortrekker Eeufees, my opregte dank en waardering vir die voorreg wat ek gehad het om vir tien jaar as skoolhoof te kon dien by ’n baie unieke en besonderse skool. My lewe is deur hierdie tydperk onmeetbaar verryk.
Ek sluit af met die leuse: “‘n Gelukkige Kind, ‘n Suksesvolle Skool”, as my droom vir die skool in die jare wat voorlê.
​
Mnr. Gerhard Claassen
Hoof

